| Kinderstories
Padkos6 - Die Neushoringvoël
Psalm 98:5 (sing ’n) Psalmsing tot eer van die HERE. Laat die see bruis en sy volheid, die wêreld en die wat daarin woon. Laat die riviere in die hande klap, die berge tesame jubel. Die hele skepping van God maak geluide: wind, see, riviere, bome – alles gee aan God die eer. En ek wil Hom vandag eer vir al die interessantste diere en voëls en visse en plante wat Hy gemaak het met soveel kleure en verskeidenheid. Alles het ‘n doel: Houtkapper het byvoorbeeld ‘n kort, harde bek om gate in bome te kap, suikerbekkie se snawel is lank en dun om nektar uit blomme te suig, eend se bek is plat om onder die water goggas of paddas te vang , maar het jy al gewonder: hoekom is die neushoringvoël se snawel so groot en krom? Neushorings is pragtige voëls wat insekte én klien diertjies, soos akkedisse, vreet. Hy maak ‘n diep trompet-geluid wat nog harder eggo binne-in sy hol snawel, veral by die bromvoël of boskraai, wat familie van die neushoring is. Die rooibek en geelbek neushoring lyk amper dieselfde, behalwe die kleur van die snawel. Hulle broei in ‘n hol boomstam. Wanneer dit broeityd is, verveer die wyfie (sy verloor al haar vere). En, terwyl sy op die eiers sit, bou die mannetjie Neushoring haar toe met klei en los net ‘n groot genoeg gaatjie om met sy groot krom snawel vir haar en die kleintjies kos te voer. So beskerm die mannetjie sy familie teen ander roofdiere wat hulle kan skade doen. Wanneer hulle groot genoeg is om te vlieg, word die nessie weer oopgemaak, die vere het weer terug gegroei en die kleintjies is gereed om hulleself te beskerm. Ons het ook God se beskerming nodig. God gebruik baie keer ander mense om ons te help beskerm. So ‘n wegsteek-oppas-storie lees ek in die Bybel, in 1 Konings 18: Agab was ‘n wrede koning wat God nie gedien het nie. So ook sy vrou Isebel. Sy het op ‘n keer al die Profete van God probeer dood maak. In die koning se paleis het ‘n man gewerk wat God gevrees het, sy naam was Obadja. God het hom gebruik om een honderd profete weg te steek dat Agab en Isebel hulle nie kan kry nie. Hy het hulle in twee groepe van vyftig elk gedeel en in spelonke laat wegkruip. Hulle kon nie self uitkom om eet- en drinkgoed te kry nie en vir ‘n lang tyd het Obadja elke dag vir hulle lekker brood en water gebring om hulle aan die lewe te hou. Nadat die profeet Elia die groot oorwinning teen die Bal-profete behaal het, het hy ook gevlug vir die wrede Isebel. Toe hy by die spruit Krit sit en kla hy is die enigste profeet, het God hom herinner dat daar nog baie ander profete is. Was dit miskien omdat ‘n getroue man soos Obadja bereid was om hulle weg te steek en te beskerm? Die Here leer ons dat ons vyand, die duiwel, rondloop soos ‘n brullende leeu om te kyk wie hy kan verslind. Sê dankie dat God mense gebruik om jou op te pas en weg te steek van gevaar - net soos die pappa-neushoringvoël. En wanneer pappa en mamma partykeer nee sê, is dit omdat hulle jou wil beskerm teen dinge wat hulle weet vir jou gevaarlik is en jou kan seermaak. En onthou, God sê in Psalm 27:5: Want Hy steek my weg in sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in die skuilplek van sy tent. Hier onder is 'n inkleurprentjie van 'n Neushoring-mannetjie wat sy kleintjies voer. Vra vir Pappa of Mamma om dit vir jou uit te druk sodat jy dit kan inkleur. (Regs-kliek op die prentjie en kliek op 'Print')
Kom kyk op 14 Februarie vir jou volgende storie: Die Kraai. Cheers vir eers! Soekie
Wil jy jou sê sê? Jou kommentaar en idees is vir ons waardevol. Jy kan dit gerus met ons deel deur 'n
info@soekiekrog.com
aan Soekie te stuur. Hoor graag van jou! BESTEL NOU VIR SLEGS R50: CD met 15 voëltjie-stories. Kliek hier om jou CD te bestel!
| ||||
‘n Neushorings se bek is swaar, dis hoekom twee van sy nekwerwels aanmekaar vas is, sodat die nek hierdie swaar bek kan dra.
‘n Kraai is 'n voël wat nie baie mooi kan sing nie, maar met sy hees, skor stem baie verskillende woorde of sinne kan praat. Hy klink anders as hy vlieg, bang is, kwaad is of verlief is. Kraai is een van die slimste soorte voëls. Hulle kan selfs mens-woorde aanleer en mens-gesigte herken. ‘n Raaf is ook deel van die kraai-familie. Die twee soorte kraaie wat omtrent oral in suid-Afrika voor kom, is die swart kraai en die witborskraai.
